Sou daar nog so ‘n dokter?
Feb 2nd, 2010 by huisvrou
Sestien jaar gelede, toe ek swanger raak met ons oudste, was manlief absoluut gekant daarteen dat ENIGE ander man my sien (jy weet, in my Evasgewaad). Ek het met opgetrekte wenkbroue na hom gekyk en gedink, gaan jy dan die baba vang?
Alle geval, hy het geen erg aan die gedagte dat daar voortdurend inwendige ondersoeke gedoen word nie en so kom dit dat ons, na ‘n bietjie rondvra, by ‘n huisdokter in die buurdorp (wat na getuienis slegs in die laaste 2 weke ‘n inwendige ondersoek sou oorweeg) ‘n afspraak maak.Weens swak na-geboorte-advies-en-sorg (dit was in die oorgangsjare en die “nuwe” verpleegster was maar uiters “rou”) het ek met ‘n septiese epiosotomie wond gesit. Op navraag is die dokter met verlof en is ek verwys na sy vennoot - heelwat jonger as “ons” dokter, maar steeds uiters bekwaam. Dit was my eerste kennismaking met hierdie besonderse mens.
Iewers tussen ousus en ouboet het “ons” dokter op die stadsliggies se roepstem reageer. Ons het agter hom aangery stad toe, en ouboet is in die stadshospitaal gebore. Maar vir ander kwale het ons steeds na sy vennoot in ons buurdorp gegaan. Met die jongste twee se “swangerskappe” en geboortes, het “ons” dokter gesê dat weens die kostes hy nie meer geboortes hanteer nie, en is ons verwys na ‘n vroulik ginekoloog - weer ‘n bestiering van Bo, sy is wonderlik.
Soms, met krisis-situasies (soos kinders wat hul koppe oopval, ysters in die oog ens), dan sal ons van die plaaslike dokters gebruik maak, maar wanneer ek ‘n DOKTER soek, ry ek buurdorp toe.
Hierdie dokter is uniek. Waarlik nog in die ou terme ‘n dokter.
Ek kom op ‘n dag sy spreekkamer binne met al vier kinders - sommer sleg siek. Ma is moedeloos moeg van min slaap en spook met kinders. Dokter moet nou help, hulle sommer al vier inspuit as dit daarop aankom…. Hy het hul gesiggies so een na die ander bekyk, sy kop geskud en gesê: “Die kinders is die minste van my bekommernisse - ek is meer begaan oor die ma. Jy lyk af.”
Nou kyk, ons het nie ‘n mediese fonds nie, dus is doktersbesoeke die absolute uitsondering. Ek kan nie met elke nat neus gou sy drempel deurtrap nie. Maar hierdie man doen moeite. Op ‘n aand, seker so na 7, lui die telefoon. Hy wil net weet hoe gaan dit nou met die kinders se ore? Waar kry jy nog sulke dokters?
Alle geval, terug by die besoek. Hy het aan my die werking van die endorfiene hormone verduidelik en vir my ‘n voorskrif vir ‘n anti-depressant gegee. Die was ‘n reddingsboei in ‘n tyd van absolute nood.
Gister, die eerste keer in 4 jaar, is ek weer in sy spreekkamer. Die slag alleen. Ek kan nie verwoord die verbasing en verstomming toe hy my sien, met skrefiesoë betrag en toe uitroep: “My magtag, mev Keyter!! Hoe gaan dit?” Waar is nog so ‘n dokter? Na 4 jaar !!! Goedig wou hy weet of daar nie nog klein Keytertjies bygekom het nie….
Alle geval, lang storie kort. Ek het hom gevra om asb weer vir my ‘n voorskrif vir daardie anti-depressant te gee (OK, ek weet, maar….. ek het werklik die laaste tyd soveel negatiewe gedagtes moes deurworstel, soveel male gaan sit en wonder: is dit nog enigsins die moeite werd?). Hy het my meer as dit gegee: ‘n Aanbeveling na ‘n berader, ‘n voorstel vir ‘n boek (5 Tale van die Liefde van Gary Chapman wat ek wel deurgelees het, maar weer moet deurwerk), my selfoon nommer gevat want hy wil ‘n boek vir my stuur wat ek moet lees eers as die lig weer deurgebreek het (die boek blyk toe ook op my boekrak te wees: Prison to Praise deur Merlin Carrothers - PUIK) en ek moet weer leer vertrou - om te midde van alles op te kyk, nee Op te kyk.
Ek vra weer - waar sou nog so ‘n dokter gevind kon word?









Ek is so dankbaar dat daar so ‘n ongelooflike mens in jou lewe is. Sluk jou pilletjies, God het ons verstand ook gegee om te midde van ons afhanklikheid van Hom ook te kan dink dat ons dit hierdie keer nie op onse self gaan deur kom nie. Baie sterkte my vriendin. Gooi maar gerus vir my ‘n briefie oor die lyne, ek is altyd daar vir jou.
Ogies’s last blog post..Wil nie wees nie, maar is
Thanks Ogies - vir alles.
Ja, mens kry hulle nog, maar hulle is dun gesaai. Ek’s nogal nuuskierig oor wie die dokter/s almal is. Was mos lank terug ‘n nurse in Pietersburg gewees. Wie weet, as jy daar gekraam het, het ons mekaar dalk al gesien!
Vlam’s last blog post..Onsensitiewe broers
Nee, Vlammetjie - daai city/stad ken ek maar sleg!! Petoors is vir ons 3 treë nader en voel meer bekind!! Alle geval dr Rouleaux van der Merwe was die een wat na Pretoria verhuis het. Hy en oudokter Koot Vorster was vennote.
Hierdie mens-mens dokter van ons is oudokter Koot se seun, Jakobus.
Ek wou nou net vir jou vra of dit die nimlike Jakobus is. My seun is polisieman in Mahwelareng en sonder dat hy besef het wie presies die Dr Vorster is, het hy eendag by hom beland. Wat vir my kosbaar was, was dat toe hy my seun klaar ondersoek het en ‘n voorskrif gegee het, hy vir hom gese het: Nou het ons die liggaam behandel, vertel nou eers vir my hoe gaan dit met die siel. Nodeloos om te se dat hy skoon stom van verbasing was. Jy is reg, hy is ‘n baie besonderse mens.
Einste!!
Het nou die dag ‘n hele uur gewag. Maar wie gee om?
Dis ook ‘n dokter wat jou nooit laat voel dat jy nou moet klaarkry, sy ure is kosbaar nie. Wat natuurlik tot gevolg het dat hy baie maklik “agter” raak met afsprake!
WOW, kan nie glo daar is nog sulke dokters nie! Ek het ook al baie gesukkel met depressie. Kyk gerus na ‘n natuurlike oplossing ook, bv Mindset van Sevenpointfive. Weet nie hoe maklik dit daar by julle bekombaar is nie, dalk in Pretoria self?, maar hierdie is ‘n baie natuurlike teenvoeter vir die meer chemiese middele (wat soms afhanklikheids-neigings of ander newe-effekte kan veroorsaak). En jy is reg - bly ook net OP kyk, Hy is in beheer al voel en lyk dinge om jou baie benoud. (Maak ‘n nota om spesiaal vir jou te bid die week.)
Different Journey’s last blog post..Birthday Boy!
Dankie Petra.
Ek het toe Prison to Praise nou weer deurgelees en werk dit nou met ‘n rooi pen deur sodat opkyk ook ‘n Lofprysing en nie net ‘n vraagteken is nie.
Ja-nee, klink na ‘n wonderlike dokter. So een wat jou eerder wil gesond hou as die siekte behandel. En Prison to Praise het my gehelp om my Pa se dood baie goed te kon hanteer. Ek het dit so 6 weke voor sy dood gelees en God geprys vir sy herstel en genesing. En toe as nakomer ook maar halfhartig vir indien hy sou dood gaan. Dit het ‘n groot verskil gemaak in die situasie. Dink dalk mens moet die boek so elke 6 maande maar weer lees as jy dit nie permanent toepas nie. Sterkte!!
Net gou ‘n opvolgie… dr Jacobus het my een middag laat, seker so ‘n week nadat ek by hom was, vir my gebel om te hoor hoe dit gaan, of die medikasie werk en of ek beter voel.
Met so ‘n dokter sien mens kans vir enige gebeurlikheid, sowaar.