Ek dink iewers het ek dit dalk gerep, ek is net nie seker nie. Van die slang wat net voor die Kerstyd ‘n dogtertjie (so 10 jaar oud) hier in die Waterberge gepik het. Sy het geslaap - slang se kind was nie in haar bed toe sy gaan inkruip het nie. Iewers in die nag het ta egter benoud geraak (miskien het sussie te woelig geslaap, hoe sal ‘n mens weet?) en gepik. Sy was in die sy en ook op ‘n wysvinger (linkerhand) gepik.
Ek word sommer koud as ek dink dat een van my kinders in die nag kan begin gil en wanneer ek (uiteindelik uit my semi-koma slaap wakker) in die gang afstorm is dit ‘n slang, liederlike, yslik-uitgegroeide slang, in haar bed.
Moeder het met haar deurgejaag dokter toe, terwyl pa die kas uitmekaarslaan om die skuldige te kry - noodsaaklik vir die regte serumtoediening. By identifikasie: Mosambiekse Spoegkobra. My eerste gedagte was ??Spoegkobra - pik?? Wel, skynbaar tog.
Nou, 2 maande verder, slaap sy steeds nie in haar kamer nie (hey, ek sou ook nie!), kry sy steeds arbeids- en sielkundige terapie (haar wyswinger se eerste lid is afgesit) en word daar steeds elke week deurgery Pretoria toe om by die dokter te kom vir uitsluitsel oor die sywond.
‘n Rariteit. Regtig. Ek meen, ons woon in die Bosveld, “for that matter” ons woon in Afrika! Doer in Memel se koue wêreld was dan ook pofadders. Maar mense wat gepik is? Nie eens onder die arbeid was ek ooit bewus van so iets nie. Wel, nou weet ‘n mens dit kan - selfs in die veilige hawe van jou bed…
Maar, gister, hoor ons die nuus. Nog ‘n kind is opgeneem in die hospitaal. ‘n Seun van sowat 10-11. Douvoordag moes ma die kinders wakker maak om gereed te maak vir skool. Pa is alreeds buitentoe om die eerste boerdery-dagtakies te doen. Dis ongeveer 5-uur. Die drie boeties het ‘n bed gedeel. Toe die enetjie begin rek en strek, trek die gil deur die huis.
Hoe op aarde sy die ander seuns veilig uit die bed gekry het, weet ek voorwaar nie. Dankie vir selfone, want dadelik bel sy vir pa en hulle jaag deur met die kind. Die oom is geskakel sodat hy die skuldige kan doodkry en identifiseer. Weer ‘n Mosambiekse spoegkobra. Die seun lê steeds in die hospitaal, met ‘n pik aan die enkel.
Nou raak dit bietjie rof…
Hoe lyk die Mosambiekse Spoegkobra? Ek moes maar ‘n Google doen op daai een en het op ‘n blog met ‘n inskrywing oor die kobra gekry (Dankie aan Guy McLaren vir toestemming tot gebruik van die foto):
Gaan loer gerus hier vir meer inligting oor die Mosambiekse Spoegkobra.










Eish!
Ja, so het ons elke dag nodig om die Vader se beskermende Hand oor ons kinders af te bid en dan die gerustellende wete niks sal buite Sy wil met hul gebeur, ne? Ons twee oudste seuns het weekliks perdry lesse. Menigmaal het daar al ‘n kind van ‘n perd afgeval. Nie een middag word CJ en Josua afgelaai, dat ons nie bid vir ekstra beskerming vir hulle (en sommer al die leerlinge van die middag). Dit is afgesien van Pappa se gebed aan ontbyttafel vir beskerming deur die dag.
Liefdegroete
Dis verskriklik!!! Ek weet nie wat ek sal doen nie. Hou mens kop in so ‘n situasie? Ek bid dat ek sal kan. Ek hoop dat dit sommer gou beter gaan met die kinders - emosioneel en fisies.
Liewe land… Ek dink ek moet my broer wat in Moz bel en maar ook van dit vertel.
Ek het gisteroggend toe ek by my agterdeur uitloop so snaakse groot iets gesien. Ek loop nader en bekyk hierdie storie. Dit was die grootste spinnekop wat ek nog in my lewe gesien het, amper so groot soos my hand (pote ingesluit). Ek het gisteraand nagmerries oor dit gehad, ek het gedroom toe my man die spinnekop in ‘n glashouer probeer sit het, was hy te slim en spring woerts… op my gesig. My gesig is al die heledag kriewelrig.
Nou kan ek my net indink hoe daardie kinders moet voel!
Akelig! (soos my Engelsprekende ouma “aaklig” gese het.) Ek is jammer, maar ek hou absoluut niks van slange nie, hoe goed hulle nou ook al in die ekosisteem pas!
Dit lyk vir my baie soos ‘n “rinkhals”? Is dit dieselfde slang, net ‘n ander naam?
Jare terug, op bg. ouma se plaas in Wes-Transvaal, het haar honde gereeld rinkhalse doodgemaak, maar is soms raakgepik. Soms het hulle dit gemaak en ander kere natuurlik nie. Ek dink sy het serum aangehou of dalk dadelik veearts toe gejaag, sy was baie erg oor haar honde.
Ek onthou ook nie van enige mense daar rond, wat ooit gepik is nie.
O my genade! Ek gril vir my dood! Ek bid dat al twee die slagoffertjies weer spoedig sal herstel.
Toe ek so 5 was is ek ook deur ‘n slang gepik. Die slang het in die gang opgekrul gelê toe ek op hom val en bo-op hom gaan sit. Is ook hospitaal toe gejaag … gelukkig was hy nie giftig nie. Maar tot vandag toe nog is ek vrek vrek bang vir slange en gril my dood!
Daar is nog ‘n kind by een van die bronne ook deur ‘n Mosambiekse Kobra gepik so paar weke terug.
Hulle vervuil werklik hierdie Bosveld van ons nou.
Ekskuus julle, My “gmail” het al die “comments” ge-”spam”.
Linnie: - Ja, jong, gebed is weliswaar al manier om kop te hou in hierdie deurmekaar ou wêreld, en dit hou my mens.
Ogies: - Ek dink die voordeel in ons huwelike is dat ons verskillend op skok reageer. Waar die een dadelik in ‘n “ek-is-morsdood-gevries-geskrik” staan en niks kan doen nie, kan die ander “nou-is-dit-tyd-vir-aksie” inskop en die takie afgehandel kry. Ek dank Vader dat ek nog nie nodig gehad het om so ‘n situasie te moes hanteer nie…
Zee: - Hierdie jaar, so na die vorige nat jaar, het werklik ‘n klomp dierasies laat uitbroei. Dino-tipe-goggas.
Desia:- Nee, dit is nie dieselfde as die rinkhals nie. Die rinkhals het wit ringbande op sy nek, terwyl die Mosambiekse spoegkobra se ringe meer geelkleurig is.
Paula :-0 NOOIT! Ek dink nie ek sal ooit oor die skok kom nie. Ek kan ‘n spinnekop nie veel nie, het regtig ‘n fobie, net omdat kleintyd ‘n groot gog op my beland het….
RB:- Wys jou net, ek is nie eens bewus van alles wat in hierdie ou dorpie van ons gebeur nie…. Hoeveel nog?
wel, ek wil net vir julle almal se dat ek te danke aan my kat nie deur die slang gepik is nie. my ou kat van 14 jaar het uit my slaapkamer gekom en geblaas en ek kon nie verstaan waarom nie. toe ek opkyk toe seil die slang voor my verby in die kombuis in. ek is alleen manlief werk op die myn ek pas die plaas op. al genade skiet die slang. kos my om die slang te “corner” soos hulle sal se en toe stuur ek hom die ewigheid in. twee dae daarna toe skiet manlief weer een by die honde hok. ons het ook al n swartmamba dood gemaak.
groete
annelie
Welkom Annelie, ek hoop jy sal ‘n gereelde kuiergas hier om my kombuistafel wees
Jy was werklik geseën! As ek so na jou verhaal luister, moet jy ook in die Bosveld of ten minste in die ou Wes-Transvaal woon? Boervrou van formaat! Ek dink nie ek sal eers kan raakskiet nie….:-/