Ek het ‘n vakansie gewen ???
Feb 14th, 2009 by huisvrou
Kyk, as daar nou een ding is waaraan ek ‘n kleintjie dood het, is dit hierdie vervlakste telefoonbemarkers. Ek sou seker ‘n hele jaar net kon gaan vakansie hou het met al die sogenaamde vakansies wat ek al gewen het.
“Goeiemiddag mevrou Keyter” en ag vaderland, as hulle tog net die van kan reg uitspreek!!! Dan is dit “kieter” dan is dit “kydol” dan is dit “kitaar”, wraggieswaar dit maak my solied naar.
Dan word die wysietjie afgerammel. Straatorrel se moses. Jy het geen kans om te boe of te ba nie. “Sal mevrou omgee om net enkele vrae te beantwoord? Dit sal nie veel van mevrou se tyd in beslag neem nie?” Wonder of hulle altyd só praat en of dit die rympie op hul rekenaarskerm is? “Besit mevrou of mevrou se man ‘n selfoon?” Later word dit sommer “u se man”. “U se ouderdom, is dit tussen 25 en 35, tussen 35 en 45 of ouer as 45?” Gmf. Asof dit nou werklik ‘n verskil sou maak aan my vakansie-houery. Mense van alle ouderdomme vrek mos oor vakansie, dan nie?
Volgende op die lys is jou en jou man se beroep. ‘n Geskokte stilte as ek durf sê ek is ‘n huisvrou. Eers word daar keelskoongemaak en weer gevra: “Is u ‘n tuisteskepper?” O, Geduld… “Nee, ek is ‘n huisvrou.” steek my moedswillige ek sy kop uit.
Oe, en dan daardie vreeslike “fyngevoelige” ou vragie: “Mevrou, ek is nou jammer om hierdie vraag aan u te stel, maar dit moet nou ongelukkig. Indien u nie hierdie vraag wil beantwoord nie, kan ons ongelukkig nie u prys aan u oorhandig nie. Is u en meneer se gesamentlike inkomste minder as R6,000?” My goeie genade… Wat het dit nou met ‘n gewaande vakansie-prys wat ek “gewen” het, te doen?
Sy sit uiteindelik die foon neer nadat sy my hele stamboek uit my het. Sowat 4 ure later kry ek ‘n sms. JA, beleef dit.
“Congratulations! You won! Call Lydia immediately” en dan volg die nommer.
Ek het ‘n kompetisie waarvoor ek nie ingeskryf het nie, gewen. Ek moet die pryswenners-kantoor skakel (op my onkoste, vir ‘n prys wat ek nie wou gehad het nie). Nee, wat, van my sal julle nie hoor nie.
Aha. Maar, toe kom die oproep, ‘n verdere paar uur later. So ‘n haastige, ongemaklik vinnige Engels - my ore tuit skoon. “No, mrs Keydol, we are not a conventional timesharing company. You have won the price. I only am in your area on Monday. You know Weesgerus in Nylstroom? Now, tell me, can you and mr Keydol be there at 11:30, 3:30 or 7:30?” Ek sê vir hom nee, ek wil nie, my man wil nie, ons kan nie. “No, but I will fax it for you, then you can decide on the time and contact me.” Se g…..t.
Nee, regtig. Hulle maak dat ek in tale begin praat. O, en dis uiters noodsaaklik dat mammie EN pappie sal gaan, MET die tjekboek (want dit was ook een van die eerste beller se vrae: “Besit u ‘n tjekrekening of ‘n kredietkaartrekening?” Komaan, vir ‘n prys wat ek gewen het???)
Ek is harde-dinges genoeg om hul 90 min praatjie deur te sit en aan te dring op my prys (geliefde weier egter), want hul telefoongesprek is dan kwansuis opgeneem en ek is die versekering gegee dat dit nie “conventional timeshare” is nie. Nee, nie konvensioneel nie, net “unconventional” maar tyddeel bly tyddeel, al spel jy dit met of sonder die “un”.
Ek het die faks gekry, maar ek sal nie terugbel nie - hy kan maar weer probeer. Ek wens net daar was ‘n manier om hul kloue van my telefoonnommer af te kry…
As jy raad het, laat weet asb.









Ek ken jou frustrasie. Francois dreig hul gewoonlik met iets in die lyn van: “Waar kry jy my tel nr? Jy weet dat dit onwettig is. Ek het nie toestemming gegee dat my besonderhede by ENIGE instansie uitgegee word nie. Jy het 10 sekondes om my nommer te laat verdwyn van jul stelsel af of ek skakel my prokureer en ry jul tot by oom Daantjie in die kallerhok!”
PS: So asof ons ‘n prokureer het…. Dit werk nie altyd nie, wel, goed. Dit het nog nooit gewerk nie. Hulle bel steeds. Maar dalk laat dit hom in beheer voel….
Marelize dit maak my ook gek! Ek is deesdae nie meer te vriendelik nie, want dit gebeur nou net te veel! Dis oproepe om te hoor of ek my huis wil verkoop, homemark, huisverf, tyddeel ens ens
En hulle val sommer dadelik weg met die rympie. Ek stop hulle sommer al by die 1ste sin en sê: Ek is besig en stel nie belang nie. Woeps sit ek sommmer die foon neer. Mens se geduld is ook net so lank!
Lekker week
Ja nee ek is ok sommer onbeskof, het net nie altyd tyd vir hul gebabbel nie.
Ek kry op die oomblik, seker nou so week lank al, daagliks ‘n oproep van Cell C vir ‘n pakket, sou dink die eerste dame sou al moed opgee, maar nee.
Ek het toestemming gegee om die kobra foto te gebruik. Lees net my antwoord asseblief.
Ek val hulle sommer dadelik in die rede en se ‘nee dankie ons stel nie belang nie’, en dan ‘n bietjie harder NEE DANKIE as hulle “ja maar”, se dan totsiens en sit die foon neer.
Ek ken iemand wat dadelik se, “haal my telefoonnommer nou dadelik van jul lys af, en moet my nooit weer bel nie.” Dit help glo, want hulle se mos die gesprek word opgeneem.
Ook het ek al gehoor van mense wat die foon dadelik neersit, maar nie terug op die mikkie nie, en dan bla-bla die telemarketeer (sjoe, wat ‘n anglisisme!) op die maatskappy se onkoste voort. Ek het dit ook al probeer, maar dan bel hulle net weer op ‘n ander stadium terug.
Ek vind dit net BAIE moeilik om ongeskik te wees, maar dis seker maar die beste manier om permanent van hulle ontslae te wees?! Snaaks genoeg, my kinders het geen probleem om sommer dadelik die foon terug op die mikkie te sit nie, weet nie hoekom ek so sukkel nie!
“Call display” help ons die meeste: as dit enige 1-800 of 1-888 tipe no. is antwoord ons nie eens die foon nie. (Hier by ons is 1800 of 1888 gewoonlik “telemarketers.”)
Ons het ook ‘n antwoordmasjien en ek voel as dit regtig belangrik is sal ‘n boodskap gelaat word.
Ai, en dan voel mens ook maar partykeer jammer vir die bellers, hulle probeer ook maar net ‘n bestaan maak, maar dis ‘n jammerte wat gou verdwyn as hulle jou altyd rondom etenstyd bel en selfs Sondae.
Hoop jy kry ‘n goeie plan wat werk!
My niggie het nogal ‘n goeie een uitgedink. Sy vertel hulle dat sy baie belangstel, en sal hulle kontak sodra haar rehabilitasieperiode (bankrotskap) verby is. Hoor nooit weer van hulle nie.
Erika,
Dit klink my na die oplossing ….. HaHaHaHa…….