Feed on
Posts
Comments

Breinprofiele …

… breinontwikkeling, leerstyle, leerblokkasies, beroepskeuse, persoonlikheidsontleding. Sovele name vir ‘n ding wat ons nie kan vasvat, definieer of behoorlik kan verstaan nie.

Ons het Dinsdag die oudste twee laat “ontleed/profilieer” by dr Melodie de Jager. Sy is werklik baie goed, maar nie jou gewone - “vul hierdie toetsie vir my in, antwoord wat jy self sou kies, nie wat jy dink jou ouers wil hê jy moet kies nie” - tipe ontleder nie. Die “toetse” was iets geheel anders. En vir my wat buite die kassie dink (probeer verniet om my in ‘n bepaalde stroom te druk!) was dit ‘n baie beter roep as die IK-, aanleg- en persoonlikheidstoetse.

Saam met die ontleding kry jy ook ‘n boek, Weg met Leerblokkasies, waarin vele van die konsepte verduidelik word. Hieruit het ek net weer eens besef: Geen mens durf ooit aan ‘n ander voorskryf nie. Ek en jy beleef die lewe vanuit ons Godgeskape menswees. En ons Vader maak Unieke Skeppinge. Elkeen van ons is anders bedraad, kom uit ‘n ander agtergrond en ‘n ander opvoeding.

Maar ek loop alweer ‘n ander pad as wat ek wou. Wat my hierdie keer uit die boek opgeval het, is dat God seuns en dogters, mans en vroue, ANDERS geskape het. En ek praat nou nie onder die belt anders nie, werklike brein-bedrading anders.

Hierdie is nie uit die lug gegrypte woorde nie, maar bewese navorsingsresultate.  Dr de Jager toon in die boek in tabelvorm die verskille in verskeie areas aan. Sy het as bronverwysing: “Molecules of emotions” deur Pert, C.B.

Nadat ek deur hierdie tabel gewerk het, het ek net weereens besef, ons huidige skoolstelsel, ons samelewing, het seuns uitgeskuif, stel nie verder belang in die mansgeslag nie en ons as ouers het ‘n geweldige verantwoordelikheid teenoor ons seuns sodat hulle die mans kan word wat Vader in die eerste plek hulle geskape het om te wees.

Goed, dit als gesê, wat is die verskille. In die eerste plek is daar ‘n Fisiese verskil, naamlik dat die bundel vesels wat die linker- en regterbreinhelftes verbind, by dogters veel dikker is as by seuns. Hou dit in gedagte wanneer jy die volgende lees.

Manlike brein: Fokus Omdat hierdie bundel vesels dunner is as by meisies, kan seuns (en mans) inligting komparementaliseer - elke idee en gedagte het ‘n plek - en hulle kan op net een ding op ‘n slag fokus (:D, mos geweet!)

My vraag is Hoekom? Hoekom het God mans so geskape? Al ooit daaroor gedink dat die man moes uitgaan om te gaan kos vind, dat hy daar moet fokus op dit wat voor hom gebeur ten einde sy eie veiligheid te beskerm? Dit teenoor die

Vroulike brein: Fokus Vanweë die dikker corpus callosum is meisies (en vroue) in staat om meer as een taak op ‘n slag te verrig en op meer as een ding op ‘n slag te fokus. (Al ooit op die telefoon gepraat en kos gemaak, ‘n kind getroos en ‘n oog op die televisie gehad?)

Hoekom? Omdat vroutjie in die “grot” moes bly, die vuur aan die gang hou en die kinders uit die vuur hou, terwyl sy seker is dat die seuns mekaar nie vermoor in hul Tarzan speletjies nie.

Manlike brein: Visie Seuns kan beter visueel funksioneer deur ‘n goeie afstandsvisie (het ek nie al gesukkel om, veral in die donker, die afstand wat ‘n ander voertuig van my af is, te skat nie!) asook dieptepersepsie. Dit veroorsaak dat hulle goeie 3D-oplossingsvaardighede het. (Uhm-mmm dit was ‘n man wat die skottelgoedwasser en wasmasjien ontwerp en gebou het!)

Vroulike brein: Taal Wie ken nog nie die storie van die vrou wat aaneen babbel teenoor die ewig-swygsame beter helfte nie!? Die deel van die brein wat met taal gemoeid is, is by meisies groter as by seuns. Hulle sal veel eerder met debatvoering, bespreking en redenasies oplossings soek as seuns.

Kan jy sien dat skool, waar alles deur TAAL en SPRAAK geskied vir meisies bedoel is? Lees verder.

Manlike brein: Aksie Reeds by bevrugting, binne die eerste 6 weke, word die sigoot in ‘n testosteroonbad geweek - as dit ‘n seun gaan wees. (Weet nie of dit ooit verlaag nie! ;) ) Omdat hul testosteroonvlakke soveel hoër is as meisies s’n (o ja, ons het wel testosteroon, net nie daarin geweek nie!!! :lol: ) is seuns meer AKSIE-gerig, LUIDrugtig, Kompeterend en aggressief (enige raaisel die feit dat meer seuns as meisies op Ritalin is?)

Vroulike brein: Aksie Meisies is meer inskiklik, minder kompeterend (want ons het nie soveel testosteroon nie, my engel) en meer geneig om samewerking te gee - Ideaal vir enige klassituasie, dan nie? 

Ek glo dat God dit so gewil het sodat ons as vroue ‘n lewensmaat kan vind wat ons sal beskerm, selfs met swaardgevegte en tweegevegte sou veg vir ons. Terwyl ek as die een wat onderdanig moet wees my samewerking kan gee, inskiklik kan wees.

Hoor nou hierdie volgende een en verstaan hoekom ek sê dat seuns nie in ‘n skool hoort nie, maar iewers waar hulle deur aksie en energie-vermorsing kan LEER.

Manlike brein: Konsentrasie In die manlike brein is minder serotonien (’n hormoon nodig vir oordrag van inligting in die brein) wat lei tot groter waagmoed (verklaar hoekom my meisiekind op 3 nog nie die skopfietsie kon ry nie, terwyl broer maar 18maande oud was!!), maar ook swakker beheer oor gedrag. In kort sou ek sê dat boeta nie kan verduidelik hoekom hy so opgetree het nie, bloot omdat hy nie sy gedrag kan beheer nie. MOENIE dit van hom verwag nie. Hy kan fisies NIE.

Verder meer is hul dopamien (nog ‘n oordragstof wat ‘n rol speel in depressie) vlakke laer wat hul behoefte aan stimulasie en volgehoue aanmoediging verhoog. Jou seun het stimulasie nodig! Hy het aksie nodig, hy het aanmoediging nodig, al kan hy nie sy gedrag beheer nie!!!

Vroulike brein: Konsentrasie Weer die model-leerling…Meisies het groter emosionele bewustheid en beter gedragsbeheer en minder stimulasie nodig ten einde hul pogings vol te hou. Dopamien en serotonien vlakke is omgekeerd die van die manlike brein.

Sien dat die meisies nie nodig het om aangemoedig te word om te gaan huiswerk doen of te gaan leer vir die toets, of aan hul taak te werk nie?

En ergste van als…. Ons samelewing met sy feministiese uitgangspunte, sy hormoonoorlaaide kossoorte en ekstra estrogeen in sommige plastiese molekules is absoluut anti-man.

Later meer oor ons spesifieke uitslae en die kinders se evaluerings

Stilte

Sjoe, ek besef skielik ek skeep my kuierwerf geweldig af… en daar is geen verskoning voor nie.

Wat gebeur in my lewe? Nie veel nie en tog geweldig baie. Ons lees boeke, ons werk in die lande, ek help manlief gif aanmaak en spuit - soggens vroeg en saans laat, elke keer na of voor werk, want in werkstyd het hy ander dinge wat moet loop. Ek het wiskunde ekstra-klasse 3 dae van die week, die kinders moet gimnastiek en swemles toe en tussendeur is daar die gewone huishoudelike take.

Ek het my skryfkursus (in rubriekskryf) voltooi en voorbeelde van my werk aan verskeie tydskrifte gestuur - net om te hoor: “ons het ongelukkig nie ruimte vir nog rubrieke nie”. Maar ek sal probeer moedhou en maar aanhou skryf….Ons het ‘n klompie heel spelt aangekoop en ek het ontkieming daarvan getoets. Nou gaan ons proewe doen met aanplanting daarvan.

Spelt lyk net soos koring. Soveel so dat my BetersteHelfte wou weet hoe die kopers seker kan weet dat hulle spelt koop en  nie koring nie. (Vir meer inligting oor die antieke graansoort, lees hier en hier.) Vir diegene wat allergies is vir koring, is spelt die antwoord. Verder is spelt (ten minste tot op hede) nog nie geneties verander om produksie-opbrengste te verhoog nie, en voldoen dit daarom aan die verbruiker se aanvraag na organiese en nie-geneties-gemanipuleerde voedselsoorte. Spelt is ‘n graansoort wat in die Bybel vermeld word (ek is seker jy het dit nie geweet nie!! Ek het nie…. maar gaan loer gerus by Ex 9:32, Jes 28:25 en Es 4:9)

Hoekom nou die Spelt-storie? Ek het van spelt gehoor by Linnie en Christo. Ons gesin sukkel met chronies verstopte sinusse. Verder het ek psoriase, veral op my vingers. Deel van die raad met albei is om koringprodukte totaal uit te skakel. Dit kan ‘n mens redelik doen, maar daar kom ‘n tyd wat die behoefte aan brood net te groot raak. Spelt is dan die oplossing. Omdat ons saaiboere is, was die logiese om te kyk of ons nie self ons eie spelt kan produseer nie.

Navorsing op die web dui egter daarop dat spelt-produksie nog lank nie ‘n winsgewende been van saaiboerdery kan word nie, omdat die opbrengs per hektaar baie laag is. Dus, of ons meer as net vir eie gebruik sal kan produseer sal alleen die proewe ons leer. Boere in Australië is nog glad nie tevrede met die insetkoste en opbrengs nie. Die logiese afleiding hieruit is dat daar saad-ontwikkeling gedoen sal word, en dat die spelt dan ook nie meer in sy natuurlike, Godgeskape samestelling sal hê nie, omdat dit geteel moet word om groter opbrengs te bied.

Wat ek as boervrou 100% verstaan. Geen sakeman gaan ‘n belegging doen, risiko aanvaar en met sekerheid weet dat dit ‘n flop gaan wees nie.

Verder het ek ‘n verjaardag-partytjie vanmiddag, BTW-opgawes wat moet ingedien word en ‘n naweek-kuier by my ma-hulle. Ek het darem nog ‘n nuwe bladsy op my kuierwerf onder die tuisopvoedings-blad oopgemaak - loer gerus ook daar.

Sestien jaar gelede, toe ek swanger raak met ons oudste, was manlief absoluut gekant daarteen dat ENIGE ander man my sien (jy weet, in my Evasgewaad). Ek het met opgetrekte wenkbroue na hom gekyk en gedink, gaan jy dan die baba vang?

Alle geval, hy het geen erg aan die gedagte dat daar voortdurend inwendige ondersoeke gedoen word nie en so kom dit dat ons, na ‘n bietjie rondvra, by ‘n huisdokter in die buurdorp (wat na getuienis slegs in die laaste 2 weke ‘n inwendige ondersoek sou oorweeg) ‘n afspraak maak.Weens swak na-geboorte-advies-en-sorg (dit was in die oorgangsjare en die “nuwe” verpleegster was maar uiters “rou”) het ek met ‘n septiese epiosotomie wond gesit. Op navraag is die dokter met verlof en is ek verwys na sy vennoot - heelwat jonger as “ons” dokter, maar steeds uiters bekwaam. Dit was my eerste kennismaking met hierdie besonderse mens.

Iewers tussen ousus en ouboet het “ons” dokter op die stadsliggies se roepstem reageer. Ons het agter hom aangery stad toe, en ouboet is in die stadshospitaal gebore. Maar vir ander kwale het ons steeds na sy vennoot in ons buurdorp gegaan. Met die jongste twee se “swangerskappe” en geboortes, het “ons” dokter gesê dat weens die kostes hy nie meer geboortes hanteer nie, en is ons verwys na ‘n vroulik ginekoloog - weer ‘n bestiering van Bo, sy is wonderlik.

Soms, met krisis-situasies (soos kinders wat hul koppe oopval, ysters in die oog ens), dan sal ons van die plaaslike dokters gebruik maak, maar wanneer ek ‘n DOKTER soek, ry ek buurdorp toe.

Hierdie dokter is uniek. Waarlik nog in die ou terme ‘n dokter.

Ek kom op ‘n dag sy spreekkamer binne met al vier kinders - sommer sleg siek. Ma is moedeloos moeg van min slaap en spook met kinders. Dokter moet nou help, hulle sommer al vier inspuit as dit daarop aankom…. Hy het hul gesiggies so een na die ander bekyk, sy kop geskud en gesê: “Die kinders is die minste van my bekommernisse - ek is meer begaan oor die ma. Jy lyk af.”

Nou kyk, ons het nie ‘n mediese fonds nie, dus is doktersbesoeke die absolute uitsondering. Ek kan nie met elke nat neus gou sy drempel deurtrap nie. Maar hierdie man doen moeite. Op ‘n aand, seker so na 7, lui die telefoon. Hy wil net weet hoe gaan dit nou met die kinders se ore? Waar kry jy nog sulke dokters?

Alle geval, terug by die besoek. Hy het aan my die werking van die endorfiene hormone verduidelik en vir my ‘n voorskrif vir ‘n anti-depressant gegee. Die was ‘n reddingsboei in ‘n tyd van absolute nood.

Gister, die eerste keer in 4 jaar, is ek weer in sy spreekkamer. Die slag alleen. Ek kan nie verwoord die verbasing en verstomming toe hy my sien, met skrefiesoë betrag en toe uitroep: “My magtag, mev Keyter!! Hoe gaan dit?” Waar is nog so ‘n dokter? Na 4 jaar !!! Goedig wou hy weet of daar nie nog klein Keytertjies bygekom het nie….

Alle geval, lang storie kort. Ek het hom gevra om asb weer vir my ‘n voorskrif vir daardie anti-depressant te gee (OK, ek weet, maar….. ek het werklik die laaste tyd soveel negatiewe gedagtes moes deurworstel, soveel male gaan sit en wonder: is dit nog enigsins die moeite werd?). Hy het my meer as dit gegee: ‘n Aanbeveling na ‘n berader, ‘n voorstel vir ‘n boek (5 Tale van die Liefde van Gary Chapman wat ek wel deurgelees het, maar weer moet deurwerk), my selfoon nommer gevat want hy wil ‘n boek vir my stuur wat ek moet lees eers as die lig weer deurgebreek het (die boek blyk toe ook op my boekrak te wees: Prison to Praise deur Merlin Carrothers - PUIK) en ek moet weer leer vertrou - om te midde van alles op te kyk, nee Op te kyk.

Ek vra weer - waar sou nog so ‘n dokter gevind kon word?

Hoe besluit ‘n mens?

Jy het net ‘n paar dae, ‘n paar uur of selfs net 10 minute.

In hierdie tydjie moet jy besluit, wat neem jy saam en wat los jy.

Hierdie tydjie is jou gegee om jou AL, dit waarvoor jy 10, 20 of 50 jaar gewerk het, in ander se hande oor te gee. Nie vrywillig nie - nee dit word van jou gevat. Gevat omdat jou vel wit is en jy ‘n boer in Zimbabwe is.

Jou sweet, selfs in sommige gevalle jou bloed, lê in daardie grond. As ek sien hoe hard my man en sy broer werk - hoeveel ure hulle daagliks insit, hoeveel sweet, pyn en bloed - hoe durf ‘n wildvreemdeling sommer net opdaag en sê - gee pad, dis nou myne!

Die plaas is jou belegging. Jou voorsiening vir jou aftrede. Al jou kapitaal word daarin gestort, alle winste daarin teruggeploeg. Dit sorg vir jou brood en botter - asook die van duisende ander - jou kinders se studies, voorsiening vir hul toekoms. Die gedagte is dat jou plaas in waarde toeneem deur jou harde werk en uitbreidings.

Die direkte en daaglikse kostes om ‘n suksesvolle boerdery daar te stel en te handhaaf is enorm. Dit neem ook jaarliks toe, alhoewel die produkpryse (en dus die boer se enigste bron van inkomste) deur buitestanders bepaal word - en eerder afneem as toeneem.

Om nou midde-in die gewone onsekerheid van klimaat en prysskommelings gekonfronteer te word met gewelddadige, militante optrede van vyandelikes, terwyl daar hofbevele teen sulke optrede is (EN die SAOG uitspraak en die ondertekening van ooreenkomste tussen SA en Zim regerings dat belange van SA-ners beskerm sal word), maar die polisie volstrek weier om enige optrede teen diesulkes te neem omdat dit politics is.

Gegewe: jou plaas gaan oorgeneem word. Indien nie met jou samewerking nie, dan gewelddadig, maar die oorname is ononderhandelbaar.Onsekerheid: Wanneer? Dis die grootste stukkie nie-weet-nie. Ten spyte van hierdie swaard teen jou nek, die donker wolk oor jou lewe, gaan die boere voort en ploeg en plant.

Maar Maandag het die optrede in Zimbabwe  met hernude geweld en erns toegeneem. Beeld het berigte gedra oor Dolf, Alida en Rudolf du Toit (sien hier en hier). Ons het verder op ons Tuisonderwys gespreksgroep inligting ontvang van die tuisonderwysouers Hannes en Fiona (meer hier), asook 4 ander gesinne wie se name volgende op die lys van ontsettings is.

Jy mag met niks meer as ‘n bakkie of lorrie jou plaas verlaat nie. GEEN boerdery-toerusting, trekkers of implemente mag verwyder word nie.

Met dit in gedagte stap ek deur my huis en die vraag kom in my op: Hoe besluit ‘n mens? Wat vat jy en wat los jy? Ek het hier al geskryf oor my houtmeubels waaraan ek soveel sentimentele waarde heg. Wat van al my boeke, elektroniese toerusting, kombuisware, breekgoed? Ja, alles aardse goed, ek weet, maar jy mag pak, vraag is net wat?

Hoe besluit ‘n mens, hoe gradeer jy goeters in belangrik en onbelangrik? Met die wete, elke ding wat jy agterlaat sal vir brandhout gebruik word - in jou familie kon dit ‘n paar geslagte nog nut gehad het.

Maak vir ‘n oomblik jou oë toe en dink aan daardie mense wat vanaand in hul eie huis vasgekeer sit, hul watertoevoer afgesny, al hul beeste in die tuin en erf ingejaag… bid vir genade en sê dankie vir jou voorregte

Older Posts »

Blat Home HomeSearch Blat SearchBlat Help HelpBlat News NewsJoin Blat JoinSponsors SponsorsAbove EdenWordPress MU WordPress MU