Breinprofiele …
Mar 20th, 2010 by huisvrou
… breinontwikkeling, leerstyle, leerblokkasies, beroepskeuse, persoonlikheidsontleding. Sovele name vir ‘n ding wat ons nie kan vasvat, definieer of behoorlik kan verstaan nie.
Ons het Dinsdag die oudste twee laat “ontleed/profilieer” by dr Melodie de Jager. Sy is werklik baie goed, maar nie jou gewone - “vul hierdie toetsie vir my in, antwoord wat jy self sou kies, nie wat jy dink jou ouers wil hê jy moet kies nie” - tipe ontleder nie. Die “toetse” was iets geheel anders. En vir my wat buite die kassie dink (probeer verniet om my in ‘n bepaalde stroom te druk!) was dit ‘n baie beter roep as die IK-, aanleg- en persoonlikheidstoetse.
Saam met die ontleding kry jy ook ‘n boek, Weg met Leerblokkasies, waarin vele van die konsepte verduidelik word. Hieruit het ek net weer eens besef: Geen mens durf ooit aan ‘n ander voorskryf nie. Ek en jy beleef die lewe vanuit ons Godgeskape menswees. En ons Vader maak Unieke Skeppinge. Elkeen van ons is anders bedraad, kom uit ‘n ander agtergrond en ‘n ander opvoeding.
Maar ek loop alweer ‘n ander pad as wat ek wou. Wat my hierdie keer uit die boek opgeval het, is dat God seuns en dogters, mans en vroue, ANDERS geskape het. En ek praat nou nie onder die belt anders nie, werklike brein-bedrading anders.
Hierdie is nie uit die lug gegrypte woorde nie, maar bewese navorsingsresultate. Dr de Jager toon in die boek in tabelvorm die verskille in verskeie areas aan. Sy het as bronverwysing: “Molecules of emotions” deur Pert, C.B.
Nadat ek deur hierdie tabel gewerk het, het ek net weereens besef, ons huidige skoolstelsel, ons samelewing, het seuns uitgeskuif, stel nie verder belang in die mansgeslag nie en ons as ouers het ‘n geweldige verantwoordelikheid teenoor ons seuns sodat hulle die mans kan word wat Vader in die eerste plek hulle geskape het om te wees.
Goed, dit als gesê, wat is die verskille. In die eerste plek is daar ‘n Fisiese verskil, naamlik dat die bundel vesels wat die linker- en regterbreinhelftes verbind, by dogters veel dikker is as by seuns. Hou dit in gedagte wanneer jy die volgende lees.
Manlike brein: Fokus Omdat hierdie bundel vesels dunner is as by meisies, kan seuns (en mans) inligting komparementaliseer - elke idee en gedagte het ‘n plek - en hulle kan op net een ding op ‘n slag fokus (:D, mos geweet!)
My vraag is Hoekom? Hoekom het God mans so geskape? Al ooit daaroor gedink dat die man moes uitgaan om te gaan kos vind, dat hy daar moet fokus op dit wat voor hom gebeur ten einde sy eie veiligheid te beskerm? Dit teenoor die
Vroulike brein: Fokus Vanweë die dikker corpus callosum is meisies (en vroue) in staat om meer as een taak op ‘n slag te verrig en op meer as een ding op ‘n slag te fokus. (Al ooit op die telefoon gepraat en kos gemaak, ‘n kind getroos en ‘n oog op die televisie gehad?)
Hoekom? Omdat vroutjie in die “grot” moes bly, die vuur aan die gang hou en die kinders uit die vuur hou, terwyl sy seker is dat die seuns mekaar nie vermoor in hul Tarzan speletjies nie.
Manlike brein: Visie Seuns kan beter visueel funksioneer deur ‘n goeie afstandsvisie (het ek nie al gesukkel om, veral in die donker, die afstand wat ‘n ander voertuig van my af is, te skat nie!) asook dieptepersepsie. Dit veroorsaak dat hulle goeie 3D-oplossingsvaardighede het. (Uhm-mmm dit was ‘n man wat die skottelgoedwasser en wasmasjien ontwerp en gebou het!)
Vroulike brein: Taal Wie ken nog nie die storie van die vrou wat aaneen babbel teenoor die ewig-swygsame beter helfte nie!? Die deel van die brein wat met taal gemoeid is, is by meisies groter as by seuns. Hulle sal veel eerder met debatvoering, bespreking en redenasies oplossings soek as seuns.
Kan jy sien dat skool, waar alles deur TAAL en SPRAAK geskied vir meisies bedoel is? Lees verder.
Manlike brein: Aksie Reeds by bevrugting, binne die eerste 6 weke, word die sigoot in ‘n testosteroonbad geweek - as dit ‘n seun gaan wees. (Weet nie of dit ooit verlaag nie!
) Omdat hul testosteroonvlakke soveel hoër is as meisies s’n (o ja, ons het wel testosteroon, net nie daarin geweek nie!!!
) is seuns meer AKSIE-gerig, LUIDrugtig, Kompeterend en aggressief (enige raaisel die feit dat meer seuns as meisies op Ritalin is?)
Vroulike brein: Aksie Meisies is meer inskiklik, minder kompeterend (want ons het nie soveel testosteroon nie, my engel) en meer geneig om samewerking te gee - Ideaal vir enige klassituasie, dan nie?
Ek glo dat God dit so gewil het sodat ons as vroue ‘n lewensmaat kan vind wat ons sal beskerm, selfs met swaardgevegte en tweegevegte sou veg vir ons. Terwyl ek as die een wat onderdanig moet wees my samewerking kan gee, inskiklik kan wees.
Hoor nou hierdie volgende een en verstaan hoekom ek sê dat seuns nie in ‘n skool hoort nie, maar iewers waar hulle deur aksie en energie-vermorsing kan LEER.
Manlike brein: Konsentrasie In die manlike brein is minder serotonien (’n hormoon nodig vir oordrag van inligting in die brein) wat lei tot groter waagmoed (verklaar hoekom my meisiekind op 3 nog nie die skopfietsie kon ry nie, terwyl broer maar 18maande oud was!!), maar ook swakker beheer oor gedrag. In kort sou ek sê dat boeta nie kan verduidelik hoekom hy so opgetree het nie, bloot omdat hy nie sy gedrag kan beheer nie. MOENIE dit van hom verwag nie. Hy kan fisies NIE.
Verder meer is hul dopamien (nog ‘n oordragstof wat ‘n rol speel in depressie) vlakke laer wat hul behoefte aan stimulasie en volgehoue aanmoediging verhoog. Jou seun het stimulasie nodig! Hy het aksie nodig, hy het aanmoediging nodig, al kan hy nie sy gedrag beheer nie!!!
Vroulike brein: Konsentrasie Weer die model-leerling…Meisies het groter emosionele bewustheid en beter gedragsbeheer en minder stimulasie nodig ten einde hul pogings vol te hou. Dopamien en serotonien vlakke is omgekeerd die van die manlike brein.
Sien dat die meisies nie nodig het om aangemoedig te word om te gaan huiswerk doen of te gaan leer vir die toets, of aan hul taak te werk nie?
En ergste van als…. Ons samelewing met sy feministiese uitgangspunte, sy hormoonoorlaaide kossoorte en ekstra estrogeen in sommige plastiese molekules is absoluut anti-man.
Later meer oor ons spesifieke uitslae en die kinders se evaluerings








